Dit klink alles baie lekker as jy dit in jou kop beplan, twee nagte se kamp, dan opslaan, 'n entjie ry, dan weer kamp opslaan ens. Maar as die totale kilometers wat jy ry optel na amper 6000 en die totale keer wat jy moet kamp opslaan en afslaan meer as een hand se vingers is en meer as 60% van die reisigers oor 65 is dan kan jy maar weet die vakansie gaan afgesluit word met ten minste drie dae se fisioterapie, verskeie besoeke aan die dokters en dalk 'n sielkundige behandeling of twee. Menige persoon op die reis wou êrens moed opgee en het homself afgevra "Is dit die moeite werd? Is al hierdie stof, al hierdie seer vingers, rug, kniee en heupe dit werd? " Vra jy die vraag egter hardop kry jy 'n dawerende ja.
Die epiese vakansie het begin op die 15de Junie; eintlik al 'n jaar van te vore met die besluit om Etosha toe te gaan. Etosha is ver. Laat ek dit net weer sê vir die nodige impak, Etosha... is.... ver. Dit vat fyn beplanning om in die min tyd tot ons beskikking, daar uit te kom en weer terug. Jy kan nie net Etosha toe ry nie, jy reis soontoe en terug. Maar toe die woord eers uit is kom die versoeke van oral, ek gaan saam. Vir baie was dit 'n emmerskop-lysie-item (hoe is daardie vir 'n lekker woord) en die totale aantal mense het op 14 te staan gekom. 6 karre se mede-reisigers.
Mike2 & Nelie, Jacques, Lizette en Jan, Mike1 en Claudia, Wilma en Paul, Lee en Hennie en dan ek, Monet en André.
Wie ry saam?
Kar 1 – Mahindra S10 & Jurgens XT120 : Andre, Sonya & Monet Kar 2 – Mahindra S11 & Ventertjie : Mike2 & Nelie Kar 3 – Ford Ranger DC & Echo Chobe Karavaan : Jan, Lizette & Jacques Kar 4 – Pajero Sport & Dubbelas waentjie : Paul & Wilma Kar 5 – Land Rover Freelander met 'n Thuli kas op die dak : Mike1 & Claudia Kar 6 – Toyota Land Cruiser : Hennie (Jakes) & Lee
Van links na regs : 2 Mahindra’s, Ford Ranger, Pajero, Freelander en Die Cruiser. Die ander Toyota is net daar om te sien of julle oplet.
Die Roete
Ons roete sou begin by Groblersbrug. Dan toer ons 'n paar dae deur Botswana en land dan in die Caprivi, nou die Zambesi-streek genoem. Vandaar ry ons na Etosha, spandeer 'n paar dae daar en kom dan met 'n effense ompad deur Spitzkoppe terug. 19 dae, 5800 kilometers en 80 gigabyte se fotos en videos. Hier is die fotostorie....Click op hierdie link of die kaart hieronder om te begin en volg so ons dag vir dag toer. Aan die onderkant van elke dag se bladsy is 'n link na die volgende bladsy toe. Lekker lees en kyk. (Kyk bietjie of jy kan uitvind wat is 'n klaasneusie en of jy die foto kan sien van een.)
Die fotos is ons Oliviers s'n behalwe waar ek dit anders gemerk het.
Die toer in 'n oogwenk. Click op die datum as jy net daardie dag se fotos wil sien :